Ons Storie

Ons Storie

Na ’n studietoer in die VSA (2007) saam met Professor Malan Nel, het Ds James Klynveld en Ds Christo Nel die droom van die Here ontvang om ʼn nuwe gemeente te stig.  Die droom was om ʼn nuwe gemeente te begin wat veerkragtig, Skrifgetrou, passievol, leerbaar, deernisvol en missionêr is. Hierdie geloofsgemeenskap moet aktief in die omliggende skole en gemeenskap verskilmakend betrokke wees.  Op 1 Junie 2014 word Jubilaté gestig uit die ou Benoni en Farrarmere gemeentes. Aanvanklik was Jubilaté baie nomadies ten opsigte van waar ons kerkgehou het.  Eredienste is steeds gehou in die twee oorspronklike kerkgeboue, later op die  paviljoen by Hoërskool Brandwag en toe in hul skoolsaal. ʼn Ooreenkoms is in 2015 met Belvedere Skool aangegaan en vir die volgende 2 jaar sou eredienste in die gimnastieksaal plaasvind. Vir kantore, bidure, begrafnisse en troues is gebruik gemaak van ons buur gemeentes se geboue, gastehuise en woonhuise.  Teen die einde van 2015 is “die-aap-uit-die-mou” met ʼn besluit om ʼn nuwe gemeentesentrum te bou.  Die Benoni kerk in Park straat is verkoop.  Die erf langs die Farrarmere Kerk is aangekoop en toe word die kerkgebou, die pastorie en die woonhuis langs die ou pastorie gesloop om ruimte te maak vir die nuwe gemeentesentrum. Ouderling Leon Bezuidenhout was die projekleier wat die bouwerk oorsien het. Hierdie ambisieuse projek is gelowig aangepak met min geld en baie hoop. Lidmate het spontaan eienaarskap geneem en hul hande diep in hul sakke gesteek.  Almal het ingekoop en steen vir steen is ʼn pragtige gemeentesentrum opgerig. Hierdie gebou getuig dat hier ʼn gemeenskap is vir wie die Here baie belangrik is.  Uit hierdie gebou word ons bediening gelanseer deur Skrifgetroue Woordverkondiging, passievolle lofprysing en aanbidding, omgee, leerbaarheid en gestuurdheid. So verheerlik ons God deur vreesloos Jesus se hande en voete te wees.

 

 

ONS NAAM

Jubilaté is ’n Latynse woordjie wat beteken om vrolik te jubel en juig, van blydskap te skree en in vreugde uit te roep!

 

PSALM 100

‘n Dankpsalm. Juig tot eer van die Here, almal op aarde! Dien die Here met blydskap! Kom voor Hom met gejubel! Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak en ons is Syne, ons is sy volk, sy eie kudde. Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam, want die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag.

 

VISIE
Verheerlik God

 

KERNDOEL
Ons verheerlik God deur vreesloos Jesus se hande en voete te wees onder leiding van die Heilige Gees

 

WAARDES

 

Skrifgetrou, Passie, Omgee, Leerbaarheid & Gestuurdheid

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked*